Standpunt van die NG Kerk Robertson-Oos ten opsigte van besluit van die Algemene Sinode oor Selfdegeslagverhoudings
As Kerkraad van NG Kerk Robertson-Oos reageer ons graag soos volg rakende die besluite van die pas afgelope Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings:
Ons erken inderdaad die gelykwaardigheid van alle mense, ongeag geslag, seksuele oriëntasie, ras, taal of kultuur en wil te alle tye in liefde en met deernis teenoor elke mens optree.
Ons is dit eens met die sinode dat ‘n huwelik slegs verstaan kan word as die verbintenis tussen een man en een vrou. Ons is dan ook, op grond van Bybelse getuienis, daarvan oortuig dat seksuele verhoudings buite die huwelik teen God se wil en plan is. Ons aanvaar dat mense wel ‘n homoseksuele oriëntasie kan hê en óók in ‘n besondere verhouding met die Here kan leef. Ons verstaan van die Woord laat ons egter nie toe om selfdegeslagverhoudings en veral dan ook seksuele verhoudings tussen lede van dieselfde geslag sonder meer goed te keur nie. Ons kan ons allermins vereenselwig met amptelike burgerlike selfdegeslag- verbintenissse.
Ons bevestig ons omgee vir en deernis met homoseksuele persone, maar dit mag nooit beteken dat ons, volgens ons verstaan van die Woord, sondige praktyke maar net kan goedkeur nie. Ons is verder ook bekommerd oor ‘n bedenklike Skrifgebruik wat ons kerk binnegesypel het en wat nou onder meer ook neerslag vind in ‘n leerstellige regverdiging van selfdegeslagverhoudings. Laastens wil ons dit graag beklemtoon dat gemeentes, Kerkrade, leraars en lidmate wat steeds na ons oortuiging, die Bybelse standpunt oor selfdegeslagverhoudings wil handhaaf, nie liefdeloos is nie, maar dat ons dit doen omdat ons bo alles aan God en sy Woord gehoorsaam wil wees (Hand 4:19).
Ons distansieer ons dus hiermee op verskeie punte van die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudings.
Kerkraadsbesluit (16.11.2015)
